|
Ek
het die voorreg gehad om saam met multimedia ‘n dvd te maak vir Ds Sarel
se Paasboodskap, waarin die vraag aan verskeie mense gevra is.
Elke antwoord was verassend anders.
Vir sommige van ons is die kruis die simbool van Jesus se sterwe,
vir ander val die klem hoofsaaklik op die leë kruis en verteenwoordig die
kruis juis eerder ‘n opgestane Jesus, vir sommige is dit ‘n inspirasie
vir die ontwerp van ‘n wonderlike stuk juweliersware en vir vele is dit
die sentrale simbool waarom die Christelike geloof wentel.
Wanneer
ek na die kruis kyk, besef ek opnuut dat die balke gekap is uit die hout
van God se genade-boom.
Die
hartseer is dat ons hierdie genade as onverdiend bepreek het, maar dikwels
nagelaat het om te beklemtoon dat dit beslis nie goedkoop is nie en
dat dit koersveranderings vra, integriteit bepleit en dat ‘n lewe van
Heiligmaking die enigste bestandeel van ‘n volhoubare, kruisgetuienis in
ons lewe is. Mag God ons
vergewe vir dit wat ons van die kruis gemaak het, vir die soms verwronge
beeld wat ons gegenereer het van ‘n Jesus aan ‘n kruis, sonder dat dit
enigsins ‘n effek op ons lewens het en bloot die geleentheid vir ons kom
skep het om te kan uitkamp en sjokolade paashase eet… Selfs ‘n
heeltemal tè pienk sjokolade “Barbie” het nou deesdae ook
Paasfees-status bereik!
Ja,
God se genade is inderdaad groot, maar beslis nie goedkoop nie….die prys
was duur, hoog, onvervangbaar…juis daarom is Jesus opgewek uit die dood,
sodat ons, vir wie God teen alle menslike logika in, liefhet, die ewige
lewe kan hê. Ek het eers
ietsie van God se genade begin verstaan, toe ek op die plek in my lewe was
waar ek besef het, ek niks daarvan verdien nie…dat God my nooit kan
vergewe nie en dat ek alles wat vir my saakmaak kon verloor.
My lewe was stukkend, ek was sinies oor die kerk, oor alles wat ek
vir jare geleer is om te glo, terwyl daar op daardie oomblik en tyd,
bitter min van die vrug daarvan in my lewe of die wyse waarop ek
medegelowiges ervaar het, te bespeur was.
Alles was net “Kruis–praat”, “Kruis-sing”,
“Kruis-preek”, “Kruis-aksies”, “Kruis-plantings…..maar van
Kruis-LEEF, was daar min te siene. Ek
het besef dat my Kruis ervaring te lank op die terugvoer van mense
gebasseer was, te lank die kerk se verantwoordelikheid was en vir te lank
bitter min integriteit in my verhouding met God en die mense, wat Hy
liefhet soos vir my, weerspieël het.
Ek het die vrug van die kruis in my lewe kortgekom.
My ego moes leeg bloei sodat my are met Sy bloed gevul kon word. Bloed
wat praat van vergewe en weer vergewe, lewe in oorvloed, wat waar word
omdat die Bron my alles
moes word. Wanneer ek
sing, sou ek mense kon flous, maar God sou net kon woon en salf waar Hy
soewerein geëer word. Ek het
besef ek moes spring sonder
die sekuriteit van ‘n harnas …ek moes ‘n kruissprong maak, vér val….tot in Sy deurboorde hande.
Hier is ek genees, gevul, kon ek weer lewe…VRY van self, VRY van
opinie, VRY van “aanvaarding”. Waar
staan ek nou met die kruis?.......Ek is nog besig om dag vir dag te val,
na die plek van totale VRYHEID en dit vra vir ‘n onverskrokke fokus op
genade en totale oorgegewe afhanklikheid….vir altyd.
Dis vernuwing in to-be-continued - mode, 24/7….†
<TERUG |