|
Ek het twee dogters wat met verf, musiek
en dansskoene uit die baarmoeder die wêreld van kleur en potensiaal betree
het. Wie se talente is dit? Nugter weet, dalk het ek so klein aandeeltjie
in die musieklikheid. Maar dans? Verf en skets, mmm? Nee, ek was nie daar
met dié uitdeelslag! Maar ek het myself al ‘n duisend maal die mooiste
helderkleurige moderne landskappe sien verf en net die dagdroom daaraan
laat my voete vuiste in my skoene maak van lekkerte!
Tog besluit ek op ‘n dag om ‘n kwas op te
tel. ‘n Skoenlapper was die tema van my poging tot skilder. My gemoed was
donker daardie middag. Ek het tòg die doek neergesit met groot afwagting
en begin verf. Maak nie saak watter kleure ek gemeng het nie, die
eindresultaat het alles getuig van hoe ek voel. Die skoenlapper moes
helder groen en oranje gevlerk het, maar my kwas het bly olyfgroene en
bruine op haar vlerke “blob”. Moedeloos het ek haar bekyk en al wat ek
kon sê was: “Liefie jy moes ‘n pragtige skoenlapper gewees het, en nou
het ek jou ‘n mót gemaak!”
God het presies geweet aan wie en wat Hy
sekere gawes gee om daarmee sin in lewe te bring. Juis, wanneer donker dae
ons lewe kleurloos wil verf. My vriendin Jackie het nog altyd die vermoë
gehad om baie diep in my gees met haar skilderkuns te kommunikeer. Sy mág
maar! Nou kyk ek na haar werk in my huis, en maak onmiddellik kontak met
my emosies van hartseer, vreugde, ekstase en soms leer ek nuwe lesse. Dus
my stokperdjie, om kunsgallerye en uitstallings te besoek, van kunstenaars
wat bereid is om eerlik en outentiek te wees.
Wenk:
Ons stokperdjies staan in diens van Godgegewe vermoë om mooi te skep en
te kan waardeer, sonder vergelyk. Dit moet vir ons die spieël word van ons
eie binnewêreld, refleksie van ons ware gemoedstemming. So sien ek dit
wat ek nie kan verwoord, gevisualiseerd voor my in die kleur of tekstuur
van my gemoed. Laat toe dat jou stokperdjie jou, jouself laat ontdek –
Die Meester het ‘n meesterstuk geskep, en dis JY!
<TERUG |